.
Alabama Avontuur
bied aan: Staptoer in Kapadokya (Turkye) – Maart 2010
In Maart gaan ons na Anatolia in Turkye toer. Kom stap gerus saam deur die pragtige feetjie landskap van Kapadokya, waar die vroeë Christen-gelowiges hul kerkies uit die sandsteen heuweltjies gekerf het en die aller-mooiste skilderye van Jesus en sy volgelinge in die grotte geverf het. Hier ontdek ons die warm gasvryheid van Turkye in ons avontuur om die geskiedkundige plekkies saam te ontdek, terwyl ons lekker deur die beeldskone klowe stap, winskopies uitsnuffel en saans die plaaslike mense se kultuur en eetgoedjies met hulle nuttig.
Ons toer begin in Istanbul (wat voorheen Konstantinopel genoem was) waar ons twee dae lank die stad besigtig, en dan vlieg ons na Kayseri in Kapadokya waar ons in 'n grot-hotel sal tuisgaan. Die dorpie Goreme lê in die hartjie van ons stapgebied, en is 'n goeie plekkie om 'n pragtige persiese mat teen 'n billike prys op te tel, of miskien 'n effens-kleiner vloer-kussing wat in dieselfde styl as die matte geweef is. Die uitsigte in Goreme is asemrowend mooi, die mense is rustig en die strate is stil in die aande.
Die staproete word begelei deur gesoute Turkse staptoerleiers en is baie maklik, maar u moet gesond wees en kinders is welkom. Maart is 'n lekker tyd vir stap, want die winter is dan op sy einde maar die dae is nog lekker koel. Ons stap slegs 4 dae uit die 10, terwyl ons dan ons lyf toeris hou op die ander 6 dae... en daar is ook lekker bykomende uitstappies van te kies, bv die opsionele warm-lug ballon rit hoog bo die vallei van die Feetjie Skoorstene in Goreme. Die hotelle is drie of vier ster, die 2-bed kamers word gedeel met 'n ander persoon. Lekker vir studente want jy besluit self hoeveel jy wil spandeer op kos en uitstappies. Ons sal nuttige wenke stuur met aanduiding van kosgeld en sakgeld.
Die toerprys vir 10 dae is €1252 insluitende verblyf, museum ingangsgelde, staproetes, en binnelandse vlugte tussen Istanbul en Kayseri.
U oorsese vliegkaartjie is nie by die toerprys ingesluit nie. Die toerprys sluit ook maaltye uit, wat ons by plaaslike restaurante en eetplekkies langs ons roetes sal koop. Beplan dus ongeveer €25-30 per dag vir etes en drankies. Die opsionele warm-lug ballon uitstappie is 'n bykomende onkoste van €150. Vir hierdie toer vereis ons ten minste 15 persone, daarom vra ons dat u vroeg bespreek. Bespreek asb eerste u vlugkaartjie na Istanbul voordat u met ons bevestig. 'n Visum kan maklik by die lughawe in Istanbul verkry word teen €15.
Kontak ons by epos adres alabama.avontuur[at]gmail.com of skakel Riaan op 002725653408.
Toer besonderhede: 21-31 Maart 2010 - Staptoer in Anatolia: vroeë Christen grot-kerkies (10 dae)
Istanbul en Kapadokya Staptoer (4 dae 'trekking'):
Drie dae se gids-beleide besoek aan Istanbul en vier dae van genotvolle staproetes deur die skaduryke valleie van Kapadokya waar die vroeë Christen grot-kerkies verskuil word met wonderskone rotswand-skilderye, uitgekerfde klip-bewoner huisies, wyd-verspereide ondergrondse stad en die bekende sprokies-maan landskap met tower vulkaniese skoorstene. Opsionele warm-lug ballon uitstappie vir diegene wat dit verkies, asook 'n opsionele besoek aan die hamam (Turkse bad), plus kulturele uitstappies en nogal baie vrye tyd om die plaaslike winkelkies te besnuffel.
21 Maart: Met jou aankoms in Istanbul, ontmoet ons by die 4* hotel en ontspan saam na die lang vlug. Ons spandeer 'n rustige aand in die stad, terwyl ons 'n heerlike maaltyd nuttig op die dak van die hotel. Hiervandaan kan ons al die liggies van die stad, die bote op die rivier, en veral die liggies bo-aan die minarette van die moskees sien, waarom seevoëls ligtelik sweef.
22, 23 Maart: Ons besoek museums, kastele en moskees vir twee dae. In die aande kan jy kies tussen 'n besoek aan die hamam (Turkse bad) wat 'n lekker stoombad en massering behels (saam met anders mans en vrouens... daarvoor trek ons liewer swemklere aan), of 'n tradisionele opvoering van Turkse musiek en dans, of 'n rustige maaltyd in 'n antieke Ottoman-styl restaurant wat vir u 'n nargile (hubble-bubble of borrelpyp) sal aanbied.
24 Maart: Ons vlieg na Kayseri in Kapadokya. Ons sal hierdie kaartjies namens almal koop sodat ons saam vlieg. Die prys van die vliegkaartjies is in die toerprys ingesluit. Met ons aankoms in Goreme, sal ons miskien wil swem in die 3* grot-hotel se swembad. Daar is 'n opsionele aand-uitstappie na die Sarihan Karavanserai naby Avanos om die aanbiddende Sufi dansers van Mevlana te sien, bekend as die Whirling Dervishes. Hierdie toegewyde mans aanbid deur stadig in die rondte te draai, dan vinniger tot dit 'n warrel-dans is.
25 Maart: Vroeë oggend opsionele warm-lug ballon uitstappie oor die valleie van die Feetjie Skoorstene in Goreme en dan het ons die middag vry om die plaaslike winkeltjies te bekyk. Vroeg-aand bied ons 'n opsionele kulturele uitstappie aan na 'n Turkse vermaaklikheids restaurant met tradisionele musiek en 'belly dancing', vir saam-sing en saam-dans.
26 Maart: Staproete in White Valley, Uchisar en Pigeon Valley. Hiervoor benodig ons behoorlike stapskoene, sonroom en 'n sonhoed.
27 Maart: Reis per bus na Ihlara Valley, besoek die versteekte kerkies en ondergrondse stad in Kaymakli.
28 Maart: Staproete in Red Valley en rondom Bozdag Mountain.
29 Maart: Staproete in Kavak, Bahceli, en Sinasos.
30 Maart: Vlug van Kayseri lughawe terug na Istanbul. Bootreis op die Bosphorus Rivier.
31 Maart: Vertrek.
Istanbul is natuurlik 'n kosmopolitaanse stad waar mense van alle nasies en gelowe saamwoon, tog behou die Moslem geloof 'n sterk teenwoordigheid. Vir die dames sal dit help om 'n lang romp te bring vir die besoeke aan die moskees asook 'n kopdoekie. Die kopdoekie, het ons gevind, is ook bedags nogal heel handig om die boewe op veilige afstand te hou. Sonder dit, bedink van die Turkse mans hulself soms dat die vrou maar gepla kan word, en dit nogal nie omdat sy mooi is nie, maar omdat hulle 'n mat aan haar wil verkoop! Bring liewer ook gemaklike stap sandale vir die twee dae in Istanbul.
Opsionele uitstappies tydens die toer wat bykomende onkostes behels:
1. Warm-lug ballon uitstappie oor die valleie van die Feetjie Skoorstene in Goreme. Ons het hierdie uitstappie met ons eerste besoek aan Kapadokya baie geniet en kan dit aanbeveel vir 'n onvergeetlike avontuur. Bykomende onkoste van €150.
2. Besoek aan die Sarihan Karavanserai om die aanbiddende Sufi dansers van Mevlana te sien, bekend as die Whirling Dervishes. Hierdie toegewyde mans aanbid deur stadig in die rondte te draai, en dan al vinniger totdat dit soos 'n warrel-dans lyk. Die atmosfeer by hierdie geleenthede is baie eerbiedig. Ons beveel it aan, dit is werklik iets om te sien. €10.
3. Besoek aan die hamam (Turkse bad) wat 'n lekker stoombad en massering behels (saam met anders mans en vrouens... daarvoor trek ons liewer swemklere aan). €15.
4. Tradisionele opvoering van Turkse musiek en dans. €15.
5. Maaltyd in 'n antieke Ottoman-styl restaurant. €15.
6. Kulturele uitstappie na 'n Turkse vermaaklikheids restaurant met tradisionele musiek en 'belly dancing', vir saam-sing en saam-dans. €15.
.
HET JY GEWEET?
Die groen liggies wat sigbaar is dwarsoor die berge in Turkye is die minarette van die moskees.
Die groen lig simboliseer die kleur van die Hemelse Paradys. Net soos die klank van die aanbiddingsroep in die dag van die bokant van hierdie minarette gehoor kan word om die gelowige na aanbidding te bring, so ook sal die groen liggies hom snags na die Hemelse Paradys lei.
.
Die groen liggies wat sigbaar is dwarsoor die berge in Turkye is die minarette van die moskees.
Die groen lig simboliseer die kleur van die Hemelse Paradys. Net soos die klank van die aanbiddingsroep in die dag van die bokant van hierdie minarette gehoor kan word om die gelowige na aanbidding te bring, so ook sal die groen liggies hom snags na die Hemelse Paradys lei.
.
Subscribe to:
Posts (Atom)